Hoërskool Piet Retief het geen rede om terug te staan vir die groot stadskole nie – dit is die naweek bewys tydens ‘n atletiekbyeenkoms in Witrivier, waar 20 skole teen mekaar op die atletiekveld meegeding het.
Hierdie skole het skole van ons omgewing en die laeveld ingesluit.
Piet Retief het afgesluit in die agste plek uit hierdie twintig skole. Voorwaar ‘n prestasie as ‘n mens ons leerdertal met die ander skole wat deelgeneem het vergelyk!
In totaal is 6 goue, 2 silwer en 6 brons medaljes verower.
Noemenswaardige ABSA tabel punte sluit in:
Stefan de Beer S O/15 Diskus – 988 punte
Mieke van der Walt D O/15 Hoogsprig – 925 punte
Judhi Rens D O/16 Gewigstoot – 735 punte en Hoogspring 725 punte
Angelic Klingenberg D O/16 Spiesgooi – 733 punte
Stiaan Serfontein S O/16 Hoogspring – 849 punte
As in ag geneem word dat hierdie ‘n voorseisoen-byeenkoms is, en dat ons nog glad nie kompetisie gereed is nie, voorspel hierdie puik uitslae net goeie dinge vir volgende jaar.
Ons opregte dank aan Mnre de Waal, Schlebusch en Rens wat die atlete vergesel het, en ook vir Mev Tessa van der Walt wat ‘n oog oor die meisies gehou het. Dit was ‘n uitdaging met temperature in Witrivier wat die kwik na 38°C laat styg het! Die goeie getuigskrif wat ons van die koshuis waar hulle tuisgegaan het ontvang het getuig net weereens van ons leerders se goeie gedrag.
Aan die atlete – bou voort op wat julle begin het en julle sal volgende jaar die vrugte van julle harde werk pluk.